A2G-logo-dark

HERBOU VAN GEBROKE MURE

HERBOU VAN GEBROKE MURE

Inleiding:
Die titel van vandag se boodskap is ‘Herbou van gebroke mure!’
Ek sal uit die boek van Nehemia deel.
Toe die Here hierdie boodskap in my hart begin roer het, het ek Hom gevra: “Here, hoekom wil U hê dat ek hieroor moet deel?” En ek het gevoel hoe Hy sê: “Ek wil hê My mense moet weer bou”. Daar was ‘n ineenstorting. Daar is ruïnes. Sommige mense is wanhopig, en baie voel nie veilig nie. Elke mens se lewe is vir My waardevol. Ek is die Here wat herstel, en Ek wil hê dat My volk weer moet bou. Dit is nie net die herboude mure waarna Ek soek nie, dit is al die innerlike werk wat in mense se lewens plaasvind terwyl hulle bou. Dit is die proses wat hulle siele sal herstel en nie net die eindresultaat nie.
 
Kan jy die hart van die Vader hoor? Sy hart wil hê dat ons herstel moet word, en hoe lyk hierdie herstel.

DINGE WAT KAN LEI TOT GEBROKE MURE
– Daar is baie dinge wat afgebreekte mure kan veroorsaak, maar vir die Israeliete in Nehemia se tyd, was dit sonde.
– Hulle was God se volk en Hy was hulle God. Hulle was in ‘n verbondsverhouding met Hom, maar mettertyd het hulle harte begin verlang na die plesier van die wêreld en sommige het selfs begin om afgode en die gode van die heidense nasies te aanbid.
– Hulle het teen God gesondig … hulle verbond met Hom verbreek.
– God het hulle gewaarsku oor die gevolge van sonde (net soos Hy ons nou waarsku), en ‘n dag het aangebreek toe die Babiloniërs Jerusalem vernietig het en God se volk in ballingskap weggevoer het. Slegs ‘n oorblyfsel het oorgebly om die grond te bewerk.
– Dit is egter nie net sonde wat tot afgebreekte mure kan lei nie.
– Dit is enigiets wat ons gemeenskap met God beïnvloed. Dit kan ons bedrywigheid wees, en bekommernis, en stres wat ons aandag van die Here aflei. Dit kan ook teleurstelling wees wat veroorsaak dat ons vir God kwaad is, of dat ons van hom onttrek. (Ek het dit dikwels by mense gesien wat ‘n geliefde verloor het, die einde van ‘n verhouding of ‘n droom ervaar het en ook by diegene wat met ‘n chroniese pyn of siekte sukkel.) Ons kan ontmoedig raak wanneer iets nie sin maak nie.
– Onlangs het ‘n dame ‘n getuienis gedeel van ‘n geliefde wat gesterf het; en hoe sy vir God kwaad geword het, omdat sy so lief was vir die persoon. In haar woede het sy gesondig en by ‘n plek gekom waar alles induie gestort het. Maar ons dien ‘n genadige en deernisvolle God, ‘n God wat herstel, en Hy het ‘n pragtige werk van herstel in daardie dame se lewe begin.
– As jy dus hierdie lees en daar is ruïnes rondom jou, weet asseblief dat God jou wil help om die mure te herbou.
– Selfs vir die Israeliete het God hulle net vir ‘n bepalde tyd toegelaat om in ballingskap te wees voordat Hy hulle na die Beloofde Land teruggebring het
– Die eerste groep ballinge is deur Serubbabel gelei, en hulle het die tempel herbou (Daar is vir ons ‘n les hierin. Wanneer ons herstel nodig het, is dit waar ons ook moet begin. Ons is die tempel van die Heilige Gees en die eerste tree is om ons verhouding, intimiteit en gemeenskap met die Here te herstel).

SKRIFLESING:
Nehemia 1:2-4  
het Hanáni, een van my broers, gekom, hy en manne uit Juda; en ek het hulle gevra na die Jode, die vrygeraaktes wat oorgebly het uit die gevangenskap, en na Jerusalem. En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand. En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel.

Nehemia 1:11
“Ag, Here, laat U oor tog opmerksaam wees op die gebed van U kneg en op die gebed van U knegte wat verlang om U Naam te vrees; en laat dit tog vandag U kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man. Ek was naamlik skinker van die koning.”
 
Nehemia 2:1-6
“En in die maand Nisan van die twintigste jaar van koning Artasásta toe daar wyn voor hom was, het ek die wyn opgehef en aan die koning gegee; en omdat ek nooit voor hom bedroef was nie,
het die koning my gevra: Waarom is jou aangesig so bedroef; jy is tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie. En ek het baie bevrees geword en aan die koning gesê: Mag die koning ewig lewe! Waarom sou my aangesig nie bedroef wees nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en sy poorte deur vuur verteer is? Daarop vra die koning my: Wat is dan jou begeerte? En ek het tot die God van die hemel gebid en aan die koning gesê: As die koning dit goedvind en as u dienaar welgevallig is in u oë, stuur my dan na Juda, na die stad waar my vaders begrawe lê, dat ek dit kan opbou. Toe vra die koning my, terwyl die koningin langs hom sit: Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer sal jy terugkom? En die koning het dit goedgevind om my te stuur. En ek het hom ‘n bepaalde tyd aangegee.”

Kom ons leer dus van Nehemia oor HOE OM GEBROKE MURE TE HERBOU.

1. TOT TRANE GEDRYF
– Nehemia het gaan sit en huil toe hy hoor dat die mure van Jerusalem in puin was.
– Hy het gehuil, en toe het hy vir baie dae gerou, gevas en gebid.
– Wanneer laas het jy regtig gehuil oor iets wat in jou lewe gebroke is?
– Wanneer laas het jy gehuil oor iets wat in die wêreld om jou gebroke is?
– Om tot trane gedryf te word is ‘n gesonde reaksie tot afgebreekte mure in ons lewens.
– Miskien is dit ‘n gewoontesonde, of ‘n verslawing, of ‘n gespanne verhouding met jou gade of jou kind.
– Ons moet soms op ons beddens gaan lê, ons gesig na ons kussing draai en huil en ween voor die Here.
– Ons moet ons angs teenoor God uitspreek. Vertel Hom wat besig is om te gebeur, roep uit om vergifnis en roep na Hom vir hulp en leiding rakende die situasie.
– Dit is nie net vir ons nie. Soms moet ons, soos Nehemia, tot die Here roep as gevolg van die gebreekte mure wat iemand wat ons ken en liefhet, moet hanteer. Die familielid wat nie gered is nie, ‘n kind wat teruggesak het, ‘n vriend wat egskeiding oorweeg. Ons behoort ook oor hulle te ween. Dit laat toe dat die omvang van hul pyn ons harte deurboor.
– Ek het onlangs ‘n dame bedien wat genesing nodig gehad het. Gedurende die gebed het ons uiteindelik tot die Here uitgeroep vir haar seun wat met depressie sukkel.
– Nehemia was tot trane gedryf, en daarom is hy tot gebed beweeg.
– Soms het ons gebroke mure in ons eie lewens, maar ons bid nie ernstig genoeg vir herstel nie, omdat ons nie tot trane gedryf is nie. Soms hoor ons van ‘n persoon wat sukkel en ons bid ‘n kort gebed vir hulle, maar nie ‘n lang, kragtige, volhardende gebed tot die Here nie, omdat ons nie in ons harte geroer is nie.
– Altemit moet ons by ‘n punt kom waar ons regtig namens hulle tot trane gedryf is, waar ons harte vir hulle gebreek is.
– Jesus het oor Jerusalem geween. Ons lees hiervan in Lukas 19:41-42.
– Selfs die apostel Paulus het gehuil? Ons lees nie van hom wat huil weens die swaarkry van die bediening, of die slae en vervolging wat hy ontvang het nie. Nee, Paulus was tot trane gedryf ter wille van die verlorenes. Filippense 3:18-19 “Want baie – van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê – wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.” (Paulus het geween oor mense wat so geleef het.)
– Paulus het ook groot deernis gehad vir die gelowiges in die kerke wat hy gestig het. Die kerk in Korinte het hom groot angs besorg omdat die korrupsie in die kultuur rondom hulle by die kerk ingesluip het. 2 Korinthiërs 2:4 “Want uit groot verdrukking en benoudheid van hart het ek aan julle geskrywe, onder baie trane, nie dat julle bedroef mag word nie, maar dat julle mag weet van die liefde wat ek oorvloedig vir julle het.”
– Kan ek jou nooi om na te dink oor ‘n gebroke muur in jou lewe, of in die lewe van iemand vir wie jy lief is. Kan ek jou aanmoedig om vandag op jou knieë te gaan of op jou bed te lê en te ween oor die gebrokenheid.

2. TOT GEBED GEDWONGE
– Nehemia se trane het hom tot gebed gedwing.
– Die Bybel sê vir ons dat hy baie dae lank gevas en gebid het. (4 maande om presies te wees!)
– Nehemia 1:5-11 gee vir ons ‘n paar insigte in sy gebedslewe, en ons kan baie daaruit leer.
– Vers 5 “en gesê: Ag, Here, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en U gebooie onderhou”.
– 1. Nehemia het die grootheid en liefde van God herken. Dit is ‘n goeie plek om te begin wanneer mure herbou word. Ons geloof vermeerder wanneer ons onthou dat niks vir God onmoontlik is nie en dat Hy ‘n God van liefde is.
– Dink aan daardie gebroke muur wat jy moet herbou. Sien nou die saak, of die persoon, of die situasie in die konteks van God se grootheid en liefde.
– Vers 6a “laat U oor tog opmerksaam en U oë oop wees, om te luister na die gebed van U kneg wat ek vandag voor U aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, U knegte,”
– 2. Nehemia het God gevra om na sy gebed te luister en om hom te sien bid. Dit mag dalk vreemd lyk, maar eintlik het dit net gewys hoe ernstig Nehemia in sy gebed was. Hy het nie gebid ter wille van bid nie. Hy het gebid dat God namens hom moet beweeg.
– Dink weereens aan daardie muur wat herbou moet word. Is dit dalk tyd om te sê kyk na my Here? Ek bid dag en nag. Luister na my gebed.
– Vers 6b-7 terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig.
– Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan Moses, U kneg, beveel het, nie gehou nie.
– 3. Nehemia het die Here om vergifnis gevra, en hy het nie net die sondes van die mense bely nie, maar hy het berou gehad oor sy eie sondes en die sondes van sy familie. Hy het verantwoordelikheid aanvaar vir die situasie waarin Israel hulle bevind het. Hy het nie blameer of beskuldig nie, hy het berou gehad.
– Vers 8-9 “Dink tog aan die woord wat U aan Moses, U kneg, beveel het, naamlik: As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi; maar as julle jul tot My bekeer en My gebooie onderhou en dit doen – al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om My Naam daar te laat woon.’
– 4. Hy het die Here aan Sy beloftes herinner. Here, U het gesê dat as U volk na U terugkeer, al word hulle na die uithoeke van die aarde in ballingskap gebring, dan sal U hulle terugbring na die plek wat U vir hulle uitgekies het.
– Wat is die beloftes wat die Here oor jou gespreek het?  Wat is die beloftes wat die Here gespreek het oor jou geliefde, jou gesin, of die situasie wat jy moet hanteer, wat herstel moet word. Ons kan God herinner. Maar Here, U het gesê…
– Vers 10-11 “Here is die diensknegte en Jou volk wat Jy deur Jou groot krag en deur Jou sterke hand verlos het. O Here, laat tog U oor luister na die gebed van U dienskneg en na die gebed van U diensknegte wat daarop uit is om U Naam te vrees; en laat U dienskneg vandag voorspoedig wees en gee hom barmhartigheid voor hierdie man.”
– 5. Nehemia eindig sy gebed deur God om guns te vra. Een van die sleutels om God se guns te ontvang, is om daarvoor te vra;
– “en laat U dienskneg vandag voorspoedig wees en gee hom barmhartigheid voor hierdie man.”
– Wanneer ons oor iets bid, erken ons ons afhanklikheid van die Here. Ons sê vir Hom, Here, ek kan dit nie in my eie krag regmaak nie, ek het U nodig!
-Ek het ‘n verhaal gehoor van ‘n predikant wat pastorale besoeke gedoen het. Hy sou by ‘n lid se huis opdaag en aan die deur klop. Dan sou hy wag. Hy het baie bedrewe daarin geraak om die gordyne dop te hou. Die vaagste roering sou aandui dat iemand tuis was. Sommige mense sou nie reageer nie, en hy sou uiteindelik vertrek. Ander het die deur ‘n skrefie oopgemaak en vlugtig daardeur met hom gepraat. Ander sou sê: “Die huis is deurmekaar, maar kom nogtans binne.” Hy sou ingaan … en die huis sou deurmekaar wees, maar hulle sou ‘n tyd van geseënde gemeenskap geniet.
– Wanneer ons bid, nooi ons die Here om in te kom en Sy teenwoordigheid sal ons seën. Ons sal gemeenskap met Hom geniet te midde van ons stryd, en ons sal Hom ook hoor praat, en Hy sal ons wys wat om te doen.
– Dit is wat met Nehemia gebeur het.
– Nehemia 2:12het ek my in die nag gereedgemaak, ek en enkele manne saam met my; maar ek het aan geen mens meegedeel wat my God in my hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie;
– Jy sien, God het ‘n strategie in Nehemia se hart geplaas. Onthou hy het vir 4 maande gebid en gevas en gedurende daardie tyd het God vir hom ‘n goddelike plan gegee.
– Wanneer ons vir onsself, vir iemand anders, of oor ‘n situasie bid, sal die Here vir ons die wysheid gee wat ons soek en vir ons Sy plan wys.
– Dit is ook baie waarskynlik dat God ons in die herbouproses sal betrek.

3. OORGAAN TOT AKSIE
– Die herbou van die muur is ‘n wonderwerk. ’n Onmoontlike taak is binne 52 dae voltooi.
– Nehemia het na Jerusalem teruggekeer om die skade te ondersoek. Hy het God se plan met die leiers gedeel. Hy het die steun van die mense verwerf en hy het die boupoging met wysheid en sorg georganiseer. Elke persoon moes die gedeelte van die muur voor hul eie huis bou. Hele families het betrokke geraak, selfs die dames.
– Nehemia het ook sleutelleiers byeengeroep om ander dele van die muur te bou en om die verskillende hekke te herstel. Mense uit elke vlak van die samelewing het betrokke geraak. Die priesters het betrokke geraak, ‘n goudsmid het betrokke geraak en selfs ‘n vervaardiger van parfuum het betrokke geraak. Ek hou van die manier waarop die Bybel sulke besonderhede bevat … dit noem selfs hul name.
– Jy sien, ongeag wat jou werk of vaardighede is, daar is Koninkryksbouwerk vir jou om te doen.
– Die herbou van gebroke mure verg deursettingsvermoë.
– Nehemia en die mense het baie teenstand ondervind en ons sal waarskynlik teenstand van die vyand ondervind wanneer ons by die bou van die Koninkryk betrokke is. Soms kom die opposisie van buite, en soms kom dit van binne.
– Ongeag enige teekanting, ons moet aanhou bou en ons moet aanhou om almal om ons aan te moedig Ons kan nie opgee wanneer die vyand ons dreig of vir ons sê dat ons, ons tyd mors of dat daar geen hoop is nie. Ons kan nie wanhoop wanneer hy vir ons probeer vertel dat ons puinhope ons toekoms is nie. Nee, ons moet in ons outoriteit in Christus vasstaan en vashou aan wat Hy vir ons gesê het tydens ons gebede.
– Nehemia 4:13-14het ek op die laagste plekke agter die muur, op die kaal plekke, manskappe opgestel – ek het die volk opgestel volgens hulle geslagte met hul swaarde, hul spiese en hul boë. En ek het dit gesien en my opgerig en aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte Here, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.!”
– Hulle het dus met een hand gebou, en hulle het ‘n wapen in die ander hand gehad. Ons moet soms herbouwerk en geestelike oorlogvoering tesame doen.
– Die Israeliete het volhard … en hulle het die werk voltooi.
– Nehemia 6:15-16 “En die muur is voltooi op die vyf-en-twintigste van Elul, in twee-en-vyftig dae”
– Gevolgtrekking: Ons leef in ‘n gebroke wêreld, maar die Here is met ons. Kom ons nooi Hom binne ons lewens, ons gesinne, ons werkplekke en selfs binne ons gebrokenheid.
– Ons moet dalk sê: “Here, die huis is deurmekaar, maar kom nogtans binne.”
– As ons tot trane gedryf word, tot gebed gedwing word en tot aksie oorgaan en Hom binne ons lewens, ons gesinne, ons werkplekke  en selfs binne ons gebrokenheid in nooi, met God se hulp sal ons gebroke mure herbou.

GEBED: Bid met my en kom ons lig enige gebroke mure wat herbou moet word voor Hom op.

Liefdevolle Hemelse Vader, Here Jesus Christus, Kosbare Heilige Gees. Ons eer U vandag en herken U grootheid en liefde. Here, U kan elke hart sien. U weet waaroor elkeen van ons ween. Dank U dat ons kan bid en U vra om vir ons te wys wat om te doen. Praat met ons Here. Praat met ons deur U Woord. Praat met ons deur die Heilige Gees en Here ons is gewillig om deel te wees van die herbouing. Ons sal getrou en met nuutgevonde entoesiasme bou. Skenk ons guns en sukses Vader, en mag U verheerlik word met elke Koninkryksmuur wat herbou word. In Jesus Naam. Amen.

Deur Pastoor Bruce Taylor
Hierdie notas mag gedeel word met ander.

Share
Subscribe-to-daily-thoughts

Subscribe to our Daily Thought service via email

Mini Magazine

We have just completed our latest issue of the ALIVE MAGAZINE. You will find it full of material and articles that we are sure will inspire and encourage you!

Support

You can also support us in the following ways

You can pray. We value your prayers for this ministry. Pray that God would bless it, and enlarge its influence.(1 Chronicles 4:10).

Help us to expand the influence and effect of this ministry by telling your friends, family and colleagues of its existence and promoting it wherever you can.

Banking details

Account name

Alive To God

bank

Standard Bank

branch

Menlyn

branch code

012345

account number

411338196

Account type

Transmission (Cheque)

Additional information for international purposes
Swft number

SBZAZAJJ

Bank address

Box 35432, Menlo Park,
Pretoria, Gauteng,
South Africa, 0010